Eno vir die siel-gees

In ‘n vorige blogpos skryf ek oor sielskos en hoe my verstand oorgewig is aan negatiewe nuus, skadelike kitsdisse en ongesonde kykstof. Ek het vervaard losgetrek en YouTube leringe gekyk dat die data spat. Dit was ’n mengsel van SA leraars en oorsese predikers soos Andy Stanley, Pricilla Shirer, Steven Furtick, Francis Chan en nog ander wie se name ek nie eers onthou nie. My gees en siel het weldra gevoed geraak, maar nes ’n spysverteringstelsel nie ’n oormaat van vreemde en deurmekaar dinge kan inneem nie, het my siel-gees ook begin protesteer.

My gees is met strikvrae gebombardeer. My geloof is behoorlik getoets hoor. In die moderne tyd waarin inligting vrylik beskikbaar is en ’n mens bykans enige onderwerp kan Google, is dit belangriker as ooit om God se Gees van onderskeidingsvermoë binne jou te hê. Onthou dat al die leringe slegs opinies van mense is. Hulle het ook gebreke, swakhede en sonde, nes die res van ons. Daar het waarskynlik dinge in hulle lewe verkeerd gegaan, wat ’n skewe beeld van die lewe en werklikheid kon veroorsaak. Dit versterk die besef dat jy die Herder se stem moet ken en sal weet agter wie jy aanstap. Want elke instansie of opiniegewer het sekere geloofstelle of bepalings wat voorskryf wat jy moet glo en hoe jy moet leef. Die mengelmoes van luister- en kykgeregte laat my wonder . . . na wie se musiek kan mens luister en wie se lering is nou eintlik reg? Onlangs woon ek Retha McPherson se Spirit School in Bloemfontein by. Ek leer fantastiese nuwe konsepte by haar. Maar Retha waarsku ten einde ook, dat alles aan God se Woord getoets moet word.

Mens kan nie klakkeloos alles as die waarheid aanvaar nie.

Tans lees ek weer die boek Job en ek leer soveel uit sy verhaal van tragedie en vertwyfeling en hoe om te maak as jy nie meer weet na wie om te luister nie. Hoor wat staan in Job 28:28  Daarom het Hy vir die mense gesê: “Om vir die Here ontsag te hê, is die werklike wysheid en om met die sonde te breek, is die verstandigste ding wat daar is.” Job besluit om eerder met God te praat oor die dinge wat hom kwel en die vrae wat sy siel verteer.

Dit is soos Eno vir my siel-gees, toe ek besluit om by Jesus te gaan sit en die dinge wat my pla en waaroor ek wonder met Hom te bespreek. Want die ware wysheid en insig is by Hom te vinde.

Hy het begrip vir ons beperkte menslike verstandsvermoë en ons stiksienigheid. Ek voel verlig, want ek hoef nie te besluit wie is reg of verkeerd nie. Wie is ek in elk geval om te oordeel? Daarom vra ek Heilige Gees om die Woord vir my oop te breek en lewend te maak, want van brood (mense se opinies) alleen sal ek nie kan leef nie.

Liewe leser, sal jy na God gaan om die verborge dinge met Hom te bespreek? Want dit is gevaarlik om nét na mense se opinies te luister. Satan kan selfs goed bedoelde opinies gebruik om skeuring tussen jou en jou sagmoedige Vader te bring. En dit, my vriend, moet jy ten alle koste vermy.

Groete Engelroeper