Ek sal nié opgee nie!

Bended Knee Worrier female

Voel jy soos ek, vuisvoos, moeg en moedeloos vir die lewe? Voel jy ook dat daar geen rede is om aan te gaan nie? Wat is die sin?

Dan hoor ek ’n onlangse preek van Andy Stanley van Amerika. Hy praat oor Jakobus se bemoediging aan medegelowiges van sy tyd. In Jakobus 1 skryf die aardse broer van Jesus: 2. Broers, as die moeilikhede van alle kante af op julle toesak, moet julle bly wees daaroor. 3. Julle het al geleer dat dit julle standvastig maak as julle geloof op hierdie manier getoets word en julle die toets slaag. 4. Hierdie standvastigheid moet toegelaat word om ten volle te ontwikkel sodat julle beproefde en afgeronde Christene kan wees sonder gebreke.

Dit klink of Jakobus met versoekings en moeilike omstandighede geworstel het. Ek wonder of hy ook met negatiewe nuus, wanhopige armoede en skokkende politieke vergrype gebombardeer is.

Andy praat dan van sy vriend Regi Cambell wat ’n rukkie gelede die stryd teen kanker verloor het, maar wat merkwaardige deursettingsvermoë getoon het te midde hiervan. Twee dae voor Regi se dood het Andy hom besoek en ’n witbord met “to do’s” gesien. Daarop was ses punte neergeskryf om sy laaste dae uit te leef. Die vyfde punt het die meeste opgeval: “I will not give up and run out the clock.” Ek dink dit is wat baie van ons vandag doen. Ons gee moed op. Hou op met veg. Maar Jakobus sê ons moet juis hierdie slegte omstandighede, die hartseer, lyding, pyn en seer toelaat om in ons te werk. Hoekom? Sodat ons volwasse Christene kan word.

Wat beteken dit om ’n volwasse Christen te wees? Dit is om God te dien, te loof, Sy werk te doen, te volhard te midde van die negatiewe dinge in jou lewe. Om op God te bly fokus al kry jy nie die antwoorde wat jy soek nie. Om deur te druk en aan te gaan al gebeur slegte dinge met jou. Om nie moed op te gee met die lewe en tou in te gooi nie. Lees bietjie wat skryf Jakobus verder in vers 12: As ’n mens in die geloof bly staan wanneer jy in die versoeking kom, kan jy gelukkig wees, want dit is soos die Here ons toets. En as ’n mens die toets slaag, sal die Here hom die ewige lewe gee, want dit is die kroon wat Hy beloof het aan almal wat Hom liefhet.

Soveel mense gee moed op, want die omstandighede oorweldig hulle. Jakobus beveel aan dat as jy nie verstaan waarom hierdie dinge met jou gebeur nie en jy voel jy kan dit nie langer hanteer nie, om God vir insig te vra, en God sal hom wys wat om te doen. Want God gee graag wat ons vra en Hy doen dit sonder om ons te verwyt. En dan kom vers 18: Dit is omdat Hy dit graag wou doen dat Hy ons die nuwe lewe gegee het, want Hy het sy boodskap na ons toe gestuur en daaruit het ons die waarheid geleer. Hy wou hê dat ons die eerste plek moes inneem onder alles wat Hy gemaak het.

Ek wil graag ’n volwasse Christen wees. Ek wíl die toets slaag. En ek wil met alles binne my huis toe gaan, na Abba toe. Daarom, sal ek opstaan en voortveg.  En ek sal nie ophou met goed doen nie. En vir hierdie rede sal ek voluit lewe totdat Jesus my kom haal.

Kom vriend, gee my jou hand, dan help ek jou op, dan veg ons saam-saam verder.

Groete Engelroeper

3 thoughts on “Ek sal nié opgee nie!

Kommentaar is gesluit.