Vrydag, 18 Julie 2025
In Daniëlla se kamer gaan sit Maryna op die bed met die Hello Kitty beddegoed daarop. Sy vryf met haar hand oor die plek waar Daniëlla Saterdagaand gelê het, trek dan die punt van die duvet terug. Daniëlla se slaapklere het agtergebly nes die nuusleser vroeër berig het. Hoe moet sy aanvaar dat haar twee hartskatte, haar alles in die lewe, saam met miljoene ander in die niet verdwyn het? Dit maak tog nie sin nie; hulle klere, skoene, juweliersware, wat ook al hulle aangehad het, het op die plek agtergebly. Sy druk die naghempie teen haar gesig en ruik haar dogtertjie daarin. Uit die hoek van haar oog sien sy ’n boek wat oop op die bedkassie lê. Sy vee haar trane met die flieshempie af en tel die boek op. ’n Prent van ’n vrou wat versteen staan, trek haar aandag. Hierdie moet seker Daniëlla se Sondagskoolboek wees. Sy lees die onderskrif.
Maar Lot se vrou het langs die pad omgekyk en sy het verander in ’n soutpilaar. (Genesis 19:26)
Sy kan vaagweg iets van Lot en die stede, Sodom en Gomorra, onthou. Dis mos die stede wat verwoes is omdat die mense so sedeloos gelewe het. Sy kyk vir ’n oomblik intens na die uitdrukking op die vrou se wasbleek gesig.
Wat het op daardie tydstip deur haar gedagtes gegaan? Hoekom het sy teruggedraai? Wat het sy gesien? Het sy na iets of iemand gesoek?
Maryna sug diep, kyk nog een maal na die soutpilaarvrou en sit die boek terug op die bedkassie. Sy eien iets omtrent haarself in hierdie vrou-sonder-’n-naam. Dalk omdat hulle beide agtergelaat is of dalk omdat sy bly terugkyk, nes die bleekwitvrou.
# # #
Sean staan in die kombuisdeur van sy spogrestaurant op Naval Hill. Hy het persoonlik agtien maande gelede die opknappingswerk oorsien, toe hy die afgeleefde plek by die Mangaung Metro oorgekoop het. Die krag is steeds af. Dit neem ’n ruk vir sy oë om aan die donkerte gewoond te raak. Die enigste venster in die vertrek laat nie veel lig in nie. Hy trap af na die laer kombuisvloer en besef dat hy in water staan. Hy sien dat net die ingeboude gasoonde en –stoofplate oorgebly het. Een van die wynkoelkaste lê op sy sy. Die ander yskaste is weg, net drade wat soos gekleurde slange uit die muur peul. Iewers spuit daar water, hy kan dit hoor. In die opwas sien hy die kraan en draai dit toe.
Loop seker al vir dae aaneen. No wonder, die hele kombuis is onder water nie.
Sy verstand stoei met die beelde van chaos en vernietiging wat hom omsingel. Maande se bloedsweet en derduisende rande, alles in ’n oogwink daarmee heen. Hy hoor die sloesj-sloesj van die water in sy tekkies soos hy deur die eetsaal stap. Die ysige water laat sy voete dood voel. Hy stap tot by die vensters wat aan die westekant van die stad uitkyk. Verlede maand nog het hy op hierdie exact spot, waar hy nou staan, net die beste Franse disse aan die rich and famous van SA voorgesit . . . en nou . . . all gone.
Die wind fluit deur die versplinterde vensters, maar hy hoor dit skaars. Hy tel ’n stoel met gebreekte poot van die vloer af op, sit dit regop neer, dit kantel en val weer om. Hy tel dit met albei hande bokant sy kop op, lanseer dit na die muurskildery waar die buffet gewoonlik aangebied is. Die stoel se raam kraak en bars uitmekaar, die stukke val kletterend vloer toe.
# # #
In Pierre se kamer kry Maryna die iPod wat Gerrit vir Pierre se twaalfde verjaardag gekoop het, op sy lessenaar. Hy het Saterdagaand musiek daarop geluister. Sy prop die gehoorstukkies in haar ore en aktiveer die speelknoppie. Sy ken nie die lied nie en beweeg na die volgende een, én die een daarna. Almal kletsrymers wat mor oor die verval van die samelewing, die verliese in hul lewens en die rebellie van die jonger geslag.
Wanneer het sy tred verloor met haar seun se musieksmaak?
Sy wens sy kon net één keer nog haar hand deur sy hare vryf, sy arms om haar voel, al het hy meestal probeer om die lug uit haar uit longe te pers.
Terug in die kombuis wik en weeg Maryna of sy eerder die skottelgoed of die bondels wasgoed sal takel, maar besluit dan om eerder onder die duvet te gaan opbondel. Sy wil net huil en slaap en die patroon herhaal totdat alles begin sin maak. Maar eers bel sy haar buurman om te vra of hy haar vanmiddag skool toe sal neem. Sy het besluit om tóg die onderwysersvergadering by te woon, al is sy geensins lus vir die affêre nie. Sy is nuuskierig om te weet watter van haar kollegas agtergebly het.
# # #
’n Geluid uit die rigting van die badkamers ruk Sean uit sy aggressie-vlaag en hy moet stilstaan om beter te luister. Daar hoor hy dit weer.
As dit een van daai junkies is, wat teruggekom het om verder te kom loot, gaan hy vandag ’n les geleer word.
Hy raap een van die afgebreekte stoelpote van die grond af op en stap doelgerig na die badkamers toe. Hy hou die houtpoot omhoog soos ’n bofbalspeler wat gereed is om die bal tussen die skare in te moker. Hy tree om die gangmuur en stoot die deur na die mansbadkamer oop.
“Who’s there?” vol bravade, “I am warning you! I will not hesitate to use force!” Hy loop versigtig tot by die eerste toilethokkie en stoot die deur oop. Weer hoor hy die geluid. Harder hierdie keer. “This is your last chance! I have a weapon and know how to use it!” Sy stem weergalm deur die leë vertrek. “Come out of the stall with your hands up!” Die tweede hokkie se deur staan oop. Dis leeg. Sy hartklop doef-doef in sy ore.
Die looter is seker in die laaste stall.
Hy skop die deur oop en swaai terselfdertyd met die houtpoot in die lug.
# # #
Nadat sy ’n halfuur met haar buurman, Francois Tredoux, of Ghost soos hy ook genoem word, gesels het, voel Maryna effe beter. Hy het die bynaam gekry oor sy werk in die inligtingstegnologieveld. Hy is blykbaar baie goed met rekenaars en toe hy klaar gestudeer het, het ’n Amerikaanse maatskappy hom genader om te help met kuberkrakery. Van rekenaargoed weet sy bitter min. Gerrit en Pierre het met haar gespot omdat sy nie eers behoorlik geweet het wat minimize of maximize beteken nie.
Sy is verlig Ghost is bereid om haar skool toe te vat vir die vergadering. Hulle het ook gepraat oor sý teorie van die Verdwyning. Hy beweer al die mense, dis nou die miljoene mense vanoor die hele wêreld, is weggevoer deur wesens van ’n ander planeet . . . “aliens”. Hulle word nou op die “mothership”, soos hy dit noem, aangehou en word bestudeer soos hase of rotte in ’n wetenskaplike laboratorium. Hy glo vas die aliens sal die mense terugstuur of “af beam” soos hy dit genoem het, “wanneer hulle klaar ge-eksperimenteer het en alles uitgefigure het wat hulle wil weet.”
Sy skud haar kop en glimlag dan oor die vreemde teorie.
Aliens wat mense ontvoer vir navorsing . . . sonder klere? Regtig?
Sy moet erken dat die werklikheid op die oomblik vreemder as enige wetenskapfiksiefliek is en sy wonder of aliens ’n mens in ’n soutpilaar kan laat verander.
# # #
Sean raak bewus van ’n geluid, eers dof en ver, dan helderder en nader. Dis ’n venster wat teen iets klap-klap. Hy maak sy oë stadig oop. ’n Intense pyn hamer teen sy agterkop. Hy lê op die naat van sy rug op die badkamervloer.
Hy kom geleidelik orent, lig sy knieë na die dak en vou sy arms om sy bene. Hy voel met sy hand aan sy agterkop.
Darem niks bloed nie.
Sean begin lag, eers sag en bedaard, dan al luider en dieper uit sy binneste uit.
How idiotic can a Michelin-ster-chef be? Om ’n thirsty giraffe vir ’n robber aan te sien.
Die lagbui laat sy hele lyf vibreer en hy gee toe aan die gevoel van verligting wat deur hom vloei. Gelukkig was niemand hier om sy patetiese poging tot selfverdediging te aanskou nie.
I must tell Maryna about this.
Hy staan stadig op. Vreemd dat hy aan Maryna dink. Jennie sal dit geensins amusant vind nie.
# # #
Like this:
Like Loading...
Jy moet ingeteken wees om kommentaar te lewer.